Specman: Binne, buite, kyk my kuite!

Posted on May 18 2017 - 3:09pm by admin

Donderdag, 18 Mei 2017

 

Deur Avril Fillies

 

Binne, buite, kyk my kuite!

Dit is hoe Rosko Specman, ook bekend as Specmagic, spoedvraat en spelskepper van die Blitzbokke, sy vertonings op die rugbyveld in die HSBC Sewes-reeks beskryf.

Die boorling van Grahamstad in die Oos-Kaap skoei sy spel op niemand s’n en probeer om altyd sy eie styl met die gameplan van die afrigter, Neil Powell, te kombineer.

In ’n spansport soos Sewesrugby is dit altyd bemoedigend om erken te word vir jou individiuele bydrae. Ek is nie so seker oor hoeveel keer ek al in die Dream Team genoem is nie. Ek onthou nou net die jongste een in Las Vegas,” vertel hy.

Las Vegas lê hom na aan die hart, want dit is ook waar hy in 2014 sy debuut vir die Blitzbokke gemaak het.

Ek kan onthou dit was in die laaste poel-wedstryd en ek dink dit was teen Kenia. Ek speel dus die afgelope drie jaar sewes as veelsydige speler -skrumskakel, vleuel en sweeper. Op provinsiale vlak het ek al op vleuel (11) vir die Sharks se Akademiespan en die Pumas in die Curriebeker uitgedraf,” sê Specman.

The Springbok7s se ge-vaar man Rosko Specman (file picture)

Vir die volgende paar jaar fokus hy net op sewesrugby, maar hy sal dalk in die toekoms weer 15’s wil speel.

Dalk speel ek in die Superugby-reeks en soos die meeste rugbyspelers in die land, sal dit vir my ’n groot eer wees om die land as ’n Springbok te verteenwoordig. Nou wil ek net my alles vir die Blitzbokke gee en hoop ek bly beseringsvry vir die oorblywende vier toernooie,” sê hy.

Op ’n vraag oor waarom die Blitzbokke so suksesvol is, was sy antwoord dat die span ’n ongelooflike span-kultuur het. Dié span-kultuur het hy nog nêrens anders by enige span wat hy verteenwoordig het, ondervind nie.

Die twee toernooie wat vir my uitstaan, is die een in Las Vegas (my debuut in sewes) en die een in Kaapstad. Laasgenoemde is ook die enigste toernooi wat my familie kan bywoon en dis altyd lekker as hulle my persoonlik by ’n toernooi kan ondersteun,” vertel Rosko.

Die ander spoedvraat in die span, Seabelo Senatla, is gewoonlik sy kamermaat. Senatla speel tans vir die Stormers en met die laaste twee toernooie, Las Vegas en Vancouver, was Stedman Gans sy kamermaat.

Dis altyd vir my lekker om tyd met die nuwelinge in die span deur te bring. Toe ek en Stedman roomies was, het ek altyd seker gemaak dat hy die calls en game plan deurwerk voor ons gaan slaap en soggens voor ons gaan oefen. Ek probeer ook om seker te maak dat hy en ander nuwelinge deel van die span voel. Wanneer daar ’n blaaskansie op die toer is, gaan drink ons as ’n span almal ’n koffie of verken die stad,” sê hy.

Stedman Gans, Rosko se nuwe kamermaat op toer met die BlitzBokke.

Hoe weet hy wanneer om te skop of deur die gaping te versnel of is dit aangebore?

Ek dink dis 50/50. Somtyds kom dit van nature, ander tye moet jy die wedstyd mooi lees om seker te maak van jou geleenthede. Ek kan van albei voete aftrap en dit is baie handig veral as ons teen Fidjie speel. Hulle gee groter treë as ek en as ek nou deur die gaping versnel of ’n grondskoppie los, dink ek nie veel nie, ek konsentreer maar op die doellyn om seker te maak dat ek wel daar uitkom,” vertel hy laggend.

Hy het nie eintlik stokperdjies nie, maar gebruik sy af tye om te rus en te slaap. Hy hou egter van gholf speel, wanneer hy kans kry.

My boodskap aan jong rugbyspelers wat nog nie besluit het watter kode (15 of 7) hulle wil speel nie, sal ek liewer aanraai om met sewes te begin en dan na vyftien’s toe te werk. Dit is makliker, want in my ondervinding is sewes ’n kleiner groep spelers en meer aandag word aan individuele vaardighede gegee. In vyftie’s is daar meer manne en kan daar nie baie aandag aan individuele vaardighede gegee word nie,” vertel hy.

Die Sewesspeler tans in die HSBC-reeks vir wie hy die grootste bewondering het, is die Fidjiaan Masivesi Dakuwaqa.

Hy is blind in sy een oog, maar speel nog steeds rugby. Dit wys jou net dat jou omstandighede jou nie hoef agter te hou as jy iets graag wil doen nie,” het hy afgesluit.

Fiji7s se Masivesi Dakuwaqa.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestmail