(The following Afrikaans story appeared in Die Burger on 09 December 2010)
Noakes vol lof vir Treu
(Marco Botha)
Kaapstad – Die Springbok-sewesafrigter, Paul Treu, is die een man van wie hy weet wat Suid-Afrikaanse rugby na die volgende vlak kan neem.
Dít het prof. Tim Noakes, wêreldbekende sportmedikus en -wetenskaplike, aan Sport24 gesê, toe hy oor die stand van afrigting in Suid-Afrika gepols is.
“In sy benadering tot afrigting is Paul sy tydgenote jare vooruit. Jare! Hy ontleed elke klein dingetjie. Niks ontglip hom in sy ontleding van die spel, sy teenstanders en sy spelers nie.
“Hy gaan Amerika toe, nie om gemotiveer te word nie, maar om te gaan kyk hoe die Amerikaanse voetbal-afrigters dinge doen.
“En eintlik moet almal sy wetenskaplike benadering volg, maar Paul is tans so ver ek weet die uitsondering op die reël,” het Noakes gesê.
Paul Treu is years ahead of his contemporaries says prof. Tim Noakes (Pic: wikipedia)
Treu was ook vroeër vanjaar in sy twee weke verlof in Australië om met afrigters van AFL-spanne (Aussie Rules) skouers te skuur.
Hy en een van Noakes se oud-studente en nou kollegas, dr. Ross Tucker, werk ten nouste saam en dit was veral in die afgelope jaar dat allerlei tegnologie in die Blitsbokke se voorbereiding betrek is – veral nadat die span se vorige seisoen in die Internasionale Rugbyraad se Wêreldreeks rampspoedig was.
Noakes het ’n vergelyking getref met die Amerikaanse voetbal-afrigter Bill Belichick, wat die New Engeland Patriots uit die dal van diep skaduwee gaan haal het.
“Nadat die span erg afgemaai is, moes die Patriots aan die einde van die seisoen van sy spelers laat gaan. Belichick gaan doen toe ontledings van elkeen van hulle en vind dat die een ou byvoorbeeld 890 keer die jaar in spel betrokke en in 10 van daardie kere verkeerde besluite geneem het – so fyn werk die ouens in Amerika.
“Wêreldwyd is rugby ver agter wat so ’n dieptebenadering betref, maar in Suid-Afrika is Treu besig om dieselfde roete te volg.
Hy is die nuwe generasie afrigter wat ons nodig het, en vir hom sal ’n skuif van sewes na vyftienman-rugby nie moeilik wees nie.
“Die spel verskil, maar die vrae bly dieselfde. En hy soek die antwoorde,” aldus Noakes.























No Comments
There are currently no comments on Noakes has praise for Treu (Afrikaans). Perhaps you would like to add one of your own?